JESUS HET GEWEEN... | |
  |
Hierdie drie woorde is die kortste versie in die Bybel, een van die mees kompakte, en ook emosie-belaaide gedeeltes in die Skrif (Joh. 11:35). Die agtergrond is die dood van Lasarus, vriend van Jesus. Toe Jesus hoor dat hy siek is, het Hy nog twee dae vertoef waar Hy was, en toe gegaan na Betanië waar Lasarus en sy twee susters Martha en Maria gewoon het. Dit was ongeveer drie kilometer van Jerusalem af. Jesus was op hierdie stadium oorkant die Jordaan (in die omtrek van Jerigo), op die plek waar Johannes eers gedoop het (Joh. 10:40-41), en waar hy Jesus ook gedoop het. Jesus moes dus te voet stap om by Betanië uit te kom (ongeveer 20 kilometer). Dit sou lank neem om daar te kom, maar Jesus sou dit doen vir Sy vriende wat Hom nodig gehad het. Hy sê vir Sy dissipels: "Laat ons weer na Judéa gaan" (Joh. 11:7). Hy gaan ten spyte van lewensgevaar, want Sy dissipels sê vir Hom: "Rabbi, die Jode het onlangs probeer om U te stenig, en gaan U weer daarnatoe?" (Joh. 11:8). Dit was Thomas wat later sou sê: "Laat ons ook gaan om saam met Hom te sterwe" (Joh. 11:16). Jesus se bereidwilligheid om te gaan, spreek van die intieme verhouding wat Hy met Lasarus, Martha en Maria gehad het. Só wil Hy ook in 'n intieme verhouding met elkeen van Sy kinders staan. Dan het ons vrymoedigheid om van Hom hulp te verwag wanneer ons in benoudheid verkeer. Tog is ONS intieme verhouding met Hom gebrekkig: wie kan enigiets van Hom verdien? Ons moet eerder hoop op SY intieme verhouding met ons! Dan word ons geanker in Sy volmaaktheid teenoor ons onvolmaaktheid en Hy bied Sy hulp onverdiend! Toe Lasarus siek was, het die susters na Hom gestuur en gesê: "Here, hy vir wie U liefhet, is siek" (vs. 3). Later sou Jesus Self vir Sy dissipels sê: "Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak" (vs. 11). Lasarus, Martha en Maria het hulle huis en hulle harte gasvry vir Hom oopgestel en in 'n noue vriendskapsverhouding met Hom gestaan. Iemand het gesê: "There is a difference between a house and a home." 'n Huis is bloot ons blyplek. 'n Woning. Maar 'n tuiste ("home") is die familie se liefdevolle saamleef met mekaar. Die liefde van 'n vader en 'n moeder wat 'n kind dáár beleef, kan nie in geld gemeet word nie. Die geborgenheid waar elkeen veilig voel en "fellowship" met mekaar het, is onmeetlik. Hoe baie mense wat hierdie ondersteuningsbasis in hulle lewe kortkom, het al in misdaad verval? Hoe baie mense wat hierdie ondersteuningsbasis het, het al uitgestyg in die samelewing! Toe die drie hulle huis vir Jesus oopgestel het, het hulle alles vir Hom gegee. In Sy volmaakte mensheid het dit vir Hom geweldig baie beteken. In Sy volmaakte vriendskap het Hy ook dikwels vir hulle gaan kuier, en SY vriendskap (wat hulle s'n by verre oortref het) aan hulle gebied. Wat 'n geweldige vriendskapsverhouding! Hierdie vriendskap het later gekulmineer in die opwekking van Lasarus. Ons sou ook kon vra: Hoe sal ons oorwinnend leef? Wanneer ons groei tot só 'n intieme verhouding dat ons Hom kan noem: "Dierbare Jesus." Ons hoop op Sy volmaakte vriendskap, en daarom hoop ons op Sy medelye ("compassion"), Sy sorg, Sy omgee, Sy genade. Maak vriende met Jesus, en vra Hom om ook jóú Volmaakte Vriend te wees! |